Gereformeerde Kerk Worcester
“Die mens is soos gras, en al sy prag soos ‘n veldblom;
die gras verdor en die blom val af,
maar die woord van die Here, dit bly vir ewig.”
1 Petrus 1: 24, 25a
Welkom by ons
Ons is almal reisigers op pad na ons ewige bestemming. As mede-reisiger wil ons vir jou welkom sê by ons gemeente se webblad. Ons glo dat jy hier padkos vir die siel sal kry om jou te versterk. ‘n Reistog is ook altyd makliker as jy dit nie alleen aanpak nie, dus sal die pad vir jou draagliker wees met medegelowiges en die krag van ons Drie-Enige God.
Wie is ons?
Die Gereformeerde Kerk Worcester is die derde oudste van die gemeentes in die GKSA se Klassis Boland wat die hele Wes-Kaap Provinsie en die noordwestelike uithoek van die Noord-Kaap beslaan.
Die gemeente Worcester is op 28 November 1954 gestig. Aanvanklik het dit as Worcester-Paarl bekend gestaan, omdat dié twee wyke gesamentlik van die Gereformeerde Kerk Kaapstad afgestig het.
Die Gereformeerde Kerk Paarl het op 23 April 1963 van Worcester afgestig, sodat ons gemeentegrense nou buiten die hoofdorp, Worcester, ook Ashton, Barrydale, Bonnievale, Ceres, De Doorns, McGregor, Montagu, Rawsonville, Robertson, Sutherland, Villiersdorp en Wolseley insluit.
Wat glo ons?
Gereformeerde Kerk Worcester is ‘n selfstandige kerk wat in gehoorsaamheid aan die Koning van die kerk, Sy Woord verkondig en alles wil doen waarvoor Hy sy kerk wil gebruik. Ons gemeente staan op die grondslag van die Heilige Skrif, die drie Formuliere van Eenheid en die Dordtse Kerkorde.
Ons onderskryf die vyf beginsels van die Reformasie
• Aan God alleen die eer ~ Soli Deo Gloria
• Deur Christus alleen ~ Solo Christo
• Slegs deur genade ~ Sola Gratia
• Slegs die Skrif ~ Sola Scriptura
• Slegs deur geloof ~ Sola Fide